Oor El Roi Akademie
'n Christelike akademiese tutorsentrum gebou op geloof, liefde en 'n verbintenis tot elke leerder.
EL ROI – DIE GOD WAT SIEN
Dit is nie net 'n Naam nie. Dit is 'n openbaring wat gebore is in een van die mees eensame oomblikke in die Skrif.
Hagar, 'n diensmeisie sonder stem, sonder mag en sonder 'n plek waar sy behoort, word die enigste persoon in die Ou Testament wat vir God 'n Naam gee.
Nie in 'n paleis nie. Nie in aanbidding nie. Maar in die woestyn —
waar verwerping, vrees en uitputting alles van haar gestroop het.
Hagar het nie net gesê God het haar raakgesien nie. Sy het gesê: Op die plek waar ek gedink het ek is vergeet, het ek besef ek was die heeltyd onder Sy sorg en oog.
Daardie oomblik is groter as net haar storie. Want El Roi is nie net die God wat háár gesien het nie — Hy is die God wat steeds sien.
EN DAAR, TOE NIEMAND ANDERS HAAR SIEN NIE HET GOD HAAR GESIEN
Toe noem sy die Naam van die Here wat met haar gespreek het: U is 'n God wat my sien...
— Genesis 16:13
Hy sien die wat misgekyk word. Die wat afgemaak word. Die wat alles bymekaar hou, maar stilweg uitmekaar val. Die wat voel hulle storie speel in die agtergrond van ander se lewens af.
God het nie gewag dat Hagar eers uit die woestyn kom nie. Hy het haar dáár ontmoet.
Wie Is Ons
El Roi Akademie is 'n onafhanklike tutorsentrum in Monument, Krugersdorp, wat ondersteuning bied aan tuisonderrig-leerders van Graad RRR tot Graad 12. Ons is nie 'n skool nie — ons is 'n akademiese ondersteuningsentrum wat saam met ouers en Impaq/Moore House/Mindscape/Nukleus kurrikulumaanbieders werk om kwaliteitsonderrig in klein, gefokuste groepe te fasiliteer.
Ons Missie
Ons passie is om kinders te help om sy/haar droom te verwesenlik en hul potensiaal te bereik. Ons wil 'n verskil maak en voetspore laat in elkeen se lewe. Ons sal nie opgee nie, totdat elke leerder sy/haar doelwit bereik het. Ons harte en deure staan oop vir enige een wat bereid is om te groei.
Ons Waardes
Christelike fondasie — God is in die middel van alles wat ons doen.
Individuele aandag — kleiner klasse beteken meer gepersonaliseerde ondersteuning vir elke leerder.
Veilige, liefdevolle omgewing — elke leerder word gewaardeer, gerespekteer en versorg.
Familie — "Niemand bly agter nie" (OHANA).
Ouerskap vennootskap — ouers is altyd welkom en bly 'n integrale deel van hul kind se onderrig.
Die Leeromgewing
El Roi Akademie is geleë in Monument, Krugersdorp, in die Wesrand, Gauteng. Ons werk met die Impaq/Moore House/Mindscape/Nukleus kurrikulum (in lyn met CAPS) vir Graad R tot 12. Ons klein, intieme groepe verseker 'n beheerbare en betrokke klaskameromgewing. Gesinne kan verseker wees dat die leeromgewing veilig, gestruktureerd en sorgend is.
Leerders met Spesiale Behoeftes
Kinders met spesiale behoeftes word op hul eie tyd en pas geleer met soveel liefde, geduld en aandag as enige ander leerder. Hier is ons 'n familie — niemand bly agter nie.